Vana is ‘n folk-musikant wat saam met The Oh So Serious, ‘n goeie handvol troebadoere, deesdae verhoë (meestal verhogies) in kroeë aan die brand speel.
Die konsep is ‘n voortsetting van Green Acre, Vana se vorige projek. The Oh So Serious is 'n groep jong musikante wat met ‘n speelse aanslag die folk-tradisie van Woodie Guthrie en kie ontgin.
Vana sing en tokkel die kitaar; Christl Weinbeck sing, slaan die tamboeryn en skink die tee; Wynand Davel speel slapende honde wakker met sy viool; Friso Woudstra speel leadkitaar wanneer hy nie die banjo speel nie; Schulie van Heerden speel die mandolien; Pierre van Staden blaas die mondfluitjie; Anthony Koopman staan agter die kontrabas; en Hugo Radyn sit agter die tromme (of bo-op so ‘n boks-kontrepsie tydens hulle meer minimalistiese optredes). Somtyds is daar minder van hulle, somtyds meer. Die enigste reël is waarskynlik dat Vana ten minste daar moet wees.
Die groep is soos ‘n travelling circus, altyd vol geesdrif, magic en toertjies. Die toertjies kom hoofsaaklik in die vorm van Wynand Davel se viool-towerspel en wanneer Pierre ‘The Bluesman’ van Staden ’n mondfluitjie moeiteloos in ‘n békfluitjie verander. Maar af en toe, soos by hulle onlangse optrede by Steak ‘n Ale in Pretoria, is die sirkus inderdaad op die dorp: as Bongani Moses sy verskyning maak, eet hy vuur en juggle hy appels – en dan sluk hy hulle af, hap vir hap, totdat hy niks meer appels oor het nie.



Soos ‘n mens dalk van die groep se naam mag aflei, is hulle nie ‘n ernstige klomp nie. Maar met musikale vernuf en uitstekende ‘showmanship’ moes hulle iewers langs die pad ernstig nagedink het oor waarheen hulle met hierdie orkes op pad is; iewers moet mense hulle tog goed van hulle taak kwyt om ander mense (insluitend hulleself) te laat lag en dans. Dit is hoe serious hierdie klomp is. Maar wees gerus, Leonard Cohen fans, hulle het gelukkig ook een of twee hartseer ballads.
Hoe ook al dit sy, as jou voete liggies begin tik teen jou stoel wanneer ‘n banjo en ‘n tamboeryn met mekaar begin gesels en tyd vir jou stilstaan wanneer ‘n viool laat waai, behoort dit ook nie veel moeite te verg om van Vana & The Oh So Serious te hou nie.
So, as die ou geleefde stewels jou pas, trek hulle aan en gaan maak ‘n draai by die volgende Serious-verskyning (met ander woorde: gaan Oppikoppi toe!).

Tags: Folk